Carpe Diem, a Latin phrase meaning seize the day or pluck the day, was used by the Roman poet Horace to express the idea that you should enjoy life while you can.


Die bogenoemde klink maklik om te sê. Ons leef egter in ‘n onseker wêreld wat vinnig voortsnel en ek kry soms die idee dat alles deesdae groter, beter, mooier, slimmer, lekkerder en meer opwindend moet wees. Ek hoor soveel mense sê: “Ek gaan eendag…”
As ek vir ‘n oomblik stilstaan en terugdink aan my lewe van oor die 64 jaar en my loopbaan van meer as 40 jaar in die finansiële sektor voel dit soms of alles in ‘n oogwink gebeur het. As ek egter die detail herdink, het daar so baie plaasgevind dat sommige (veral die slegte) al vervaag as gevolg van tyd, terwyl ander ervarings helder in my geheue teenwoordig is.
‘n Berekening dui daarop dat op ek reeds meer as 24 000 dae lewe en indien ek op 22-jarige ouderdom begin werk het, ek reeds so ongeveer 66 000 ure (na-ure uitgesluit) daaraan spandeer het.
So ‘n paar gedagtes hieroor:
- Ek neem in 1990 ‘n loopbaanbesluit om Kaap toe te trek en waardeer steeds die geleentheid wat my pad gekruis het.
- In 2000 word ek verplig om nuwe horisonne in my loopbaan te verken en wat vandag die Autus Groep is, word gestig.
- In die volgende 21 jaar ervaar ek eerstehands die omvang van die “besigheidswêreld” (en besef die waarde van die woorde “24/7”). Ek begin as ‘n eenmansaak, doen alles self en kry my eerste kliënte wat mettertyd aangroei, ek stel personeel aan (en besef steeds elke dag die waarde van lojale en opregte werknemers), ek werk soms deurnag (al is ek moeg, want ek genet dit), vergeet om suksesse te vier. Ek poog om slegte ervarings agter te laat en aan te gaan om die beste te soek. Sommige pogings faal en ander groei tot suksesse, maar die uitdagings word ook meer.
- Ek en my span doen aftree-beplannings, stel testamente op en doen boedelbeplanning, gee raad oor uitgawes en transaksies, lei personeel op, doen kursesse. Ons word verplig om sinnelose eksamens te skryf en fooie te betaal sonder om enige waarde daarvoor te ontvang.
- Ek ontmoet ‘n verskeidenheid individue, maak wonderlike vriende. Soms is ek finansiële adviseur, soms batebestuurder, altyd entrerpreneur (want almal moet salarisse ontvang). Ander tye is ek net ‘n luisteraar en sielkundige wat deel in die lief en leed van almal rondom my.
- Ek hoor en lees van mense wat baie geld maak en luister na mense wat alles verloor het. Ek probeer help waar ek kan en is soms moedeloos oor al die slegte gebeure in die sektor waarin ek werk asook die lewe daarbuite.
- Ek ervaar moeilike tye soos die finansiële krisis in 2008, politieke onsekerheid in die wêreld en staatskaping in Suid-Afrika.
- Ek sal boeke kan skryf oor alles wat ek gehoor en ervaar het. ‘n Kollega merk eendag op dat ‘n sekere familie wat kliënte is, se storie dalk ‘n boek op sy eie is.
- Ek geniet dit om kliënte te ontmoet, uitdagings aan te pak, probleme op te los, belastingberekeninge te maak tot voordeel van beleggers en groet steeds kliënte na elke besoek met die woorde “enjoy life”.
- Die C-19 virus arriveer en kantore staan leeg, “werk van die huis” raak die nuwe norm (en ontaard as ‘n verskoning vir die swak diens van baie verskaffers), emosionele en sielkundige probleme ontstaan, mense verloor hulle werk en ondernemings sluit hulle deure.
En steeds verander die wêreld aanhoudend.

In ‘n onlangse gesprek met ‘n dierbare vriend vra hy my wat my kosbaarste besitting is. My vinnige antwoord is my familie (soos seker maar die meeste individue). Hy vra my om weer te dink en ek begin twyfel oor die vraag.
Na deeglike oorweging besluit ons saam die antwoord is TYD. Sonder tyd kan jy niks doen nie, nie aandag gee aan enige besitting nie, nie lewe nie en nie voortgaan nie.
Onlangs verloor ouers se 32-jarige dogter haar stryd teen covid. Hierdie gebeure skud my, dit bring hartseer en dalk ook opstand (miskien omdat ekself ook die virus ervaar het). Ek sit en dink oor haar ouers, haar lewe, sien haar as klein dogtertjie voor ons speel. Soms wonder ek wie is volgende? Ten spyte van alles moet die lewe aangaan. Ons het geen keuse as om die slegte en die hartseer agter te laat. Ons kan niks daaraan verander nie. Die lewe het sy verloop en word die geskiedenis.
Dit bring my by Carpe Diem: gryp die oomblik, groet mense, glimlag op jou mooiste, waardeer alles en sê dankie daarvoor, werk hard en geniet dit (of gaan doen iets anders want die lewe is kort), poog om nie te kommer nie (al is dit hoe moeilik), strewe na sukses in die klein dinge van die lewe en probeer nuwe oplossings vind. Moet nie skaam wees om hulp te vra nie, vertrou mense wat opreg wil help, en bied hulp aan binne jou vermoë.
Jen Pilla in SignupStrangers gee baie idees vir “kindness” en hieronder volg sommige wat maklik toegepas kan word:
- Gee ‘n onverwagte kompliment
- Gee vir iemand ‘n warm ete
- Glimlag vir iemand wat hartseer lyk
- Gaan besoek die diereskuiling en gee liefde
- Neem vir iemand koffie wat dit nie verwag nie
- Deel jou kennis onophoudelik en gratis
- Maak positiewe bydraes tot gesprekke
- Wees betyds vir alle afsprake en groet vriendelik
- Vergewe iemand wat jou te na gekom het
- Gee aandag aan ‘n kind, senior burger of iemand wat dit nodig het
En laastens… gun jouself tyd om bietjie stil te sit, te dink oor die goeie van die lewe en gryp die oomblik – Carpe Diem.

